En ons is dáár. Soos in oppit… breaking legs and ground and expectations.
Ons klomp hier in die Overstrand is gewoond aan mooi dinge. Pragtige proteas, strelende strande, blou-blou kaapse berge, celebrity walvisse. Wyn, kos… en deesdae is ons groep Woordcklub-kinders (tussen 10 en 15 jaar oud) ook deel van die plaaslike “toneel-kultuur”. Ons kry die kans om twee van ons stories te vertel by 2023 se Kalfiefees!
Kom ons vertel jou ń storie… of twee! is 10 Augustus 16:00 te sien by die de Wetsaal in Onrusrievier. Kry sommer nou jou kaartjies by Computicket.
Die eerste storie is geskryf deur ń plaaslike jongdame, die elfjarige Nikah Botes. Sy het tydens grendeltyd deelgeneem aan Woordcklub se aanlyn storieskryf-kursus (te kry by www.raisingbrightness. co.za). Haar storie is verwerk in ń verhoogstuk, Die Walvis Seerower, en is die eerste helfte van ons feesproduksie.
Ons gaan saam met Simon op sy fantasie-reis na die eiland in sy verbeelding. Die storie is ń fisiese teater ontdekking van walvisse, ń magiese halssnoer en natuurlik die sluwe Seerower Mosselbaard!
Na pouse ontdek die gehoor die absurde wêreld van Die land van die groot woordfabriek deur Agnés de Lestrade en Valeria Docampo:
Die land is vaal van die drukkersink en rondwaaiende oorskietwoorde. Net hier en daar is ń spatsel kleur, wanneer iemand genoeg geld kon spaar om ń sinvolle woord of twee te sê. Daniel spaar al die woorde wat hy op spesiale dae in sy net gevang kry. Hy bêre dit vir ń baie besonderse geleentheid. Maar hoe gemaak as sy paar woordjies afsteek teen sy teenstander se hele mondvol? Sal Hanli die waarde van min, eenvoudige woorde besef?
Die totale produksie is ongeveer 80 minute lank en geskik vir alle ouderdomme.
As jy nie in Hermanus kan uitkom vir die Kalfiefees nie, kom kyk vir ons by die Playhouse Festival in Somerset-Wes op 4 Augustus of by Aardklop se Pronk! Toneelfees op 7 Augustus by Laerskool Bastion. Die twee stories word dan apart opgevoer.