Kinders wat skryf

Ek is mal daaroor om te make te hê met allerhande kinders. Die een ding wat feitlik almal in gemeen het, is die lus, begeerte en vermoë om kreatief te wees. Gee hulle net ń kansie…

So het dit gebeur dat Nikah Botes en ek mekaar leer ken het tydens lockdown: ek het aanlyn boekklub en skryfklasse aangebied en sy het deelgeneem. Déélgeneem! Ure se oefen en lees en skryf het uitgloop op die mooiste storie, Walvis Seerower. Koop kaartjies vir die Kalfiefees-vertoning hier.

Ontmoet vir Nikah, leser, skrywer, aktriese en kunstenaar in wording.

Wie’s nog lus vir stories skryf? Kom doen saam met my die storieskryfkursus hier.

Walvis Seerower deur Nikah Botes

@nikahbotes

Die wind roep.

Brandertjies klim teen die kant van die skip op. Al die sterre het weg gehardloop. Daniel staan op die boeg en wonder oor die verhaal wat hy gelees het. Sy halsnoer skitter in die naglig. Hy kyk na sy halssnoer en hoor sy voorvaders se stemme.

Groot goed wag op jou.”

Hy hark deur sy rooi hare, wat soos ‘n hoop seegras op sy kop sit. Hy het so baie vrae oor die verhaal.

“Is dit waar? Moet ek die verhaal glo? Wat sal gebeur as ek daar gaan verken?

Sy gedagtes is soos bloublasies wat pop in sy kop. “Dit is tyd om te gaan slaap,” sê hy vir homself.

Hy stap rustig na die kajuit toe. Voordat hy in sy hangmat klimkyk hy vir oulaas na die volmaan wat koning kraai in die naghemel.

In die vroë oggendure worstel Daniel. Hy gryp dadelik die rante van die hangmat asof sy lewe daarvan afhang. Hy droom hy sink na die bodem van die see. Toe sien hy ‘n lig en hoor ’n stem:

“Daniel, die verhaal is waar! Jy moet na die eiland toe gaan, maar ek waarsku jou oor Seerower Mosselbaard.”

Die volgende oggend lek die eerste sonstrale Daniel se gesig. Sy sproete lyk soos sand wat oor sy wange gestrooi is. Daniel voel in sy hart soos ‘n narvis wat tussen seewier rondwriemel. Hy is baie opgewonde. Dit gaan seker die grootse avontuur van sy lewe wees.

Hy stop by die naaste eiland om kos te koop vir die pad. Daniel se

gunsteling-kos is seegras en vis.

Hy is nou reg! Hy dink oor Seerower Mosselbaard, sy grootste teenstander.

“Wel, hoe sleg kan Mosselbaard wees? Hy is soos ‘n jellievis, sonder ‘n brein,” moedig Daniel homself aan.

Die eerste dag van sy reis, was ‘n goeie sonskyn dag, maar die tweede dag is ‘n ander brander. Die son kruip weg agter die mis. Dit reën nou en dan so

effentjies. Hy verbeel homself hy sien ‘n skip, wat toegegroei is met mossels, agter hom in die  mis.

Hy wonder of dit Seerower Mosselbaard is wie op hom spioeneer, maar hy troos homself:

”Dit is seker net ‘n groot rots.”

Maar hy is verkeerd! Dit is Mosselbaard en sy mossels!

“Ha ha, mossels! My plan het gewerk. Daniel kom nie eers agter ek volg hom tot by die eiland nie!,” lag Seerower Mosselbaard. Mosselbaard stap na die rant van sy vervalle roesbruin skip – wat dieselfde kleur is as sy baard.

Hy begin praat met die mossels wat teen die skip groei. (Hierdie mosselvaartuig se naam is Mosselen.)

“Mossels, kom ek vertel julle my meester-plan. Ons het nou al die eerste stap reggekry: ons volg Daniel sonder dat hy agterkom…”

Daniel hoor ‘n stem van sy skip af. Mosselbaard praat te hard! Nou weet Daniel dit is Seerower Mosselbaard, maar hy maak asof hy niks agterkom nie.

“Ek is amper by die eiland,” sê Daniel.

Beelde van die verhaal kom nou weer na hom toe…

Daniel kry hoendervleis as hy dink oor die eiland wat baie jaar gelede weens ‘n groot vloed onder die see beland het. Hy dink aan die donkerblou spermwalvisse wat die eiland en al die waardevolle skatte bewaar.

Die eiland se naam is Schatten. Dit is maar klein. Daar is baie rotse en net een of twee plante lewe nog na die groot vloed. Die skat kom van die oumense wie daar gebly het. Dit was baie spesiaal vir hulle, maar toe kom die groot vloed en spoel al die mense weg!

Dit is altyd mistig by die eiland. Niemand was na die vloed by die eiland nie, hulle was te bang vir die walvisse.

Daniel vermoed Seerower Mossebaard het ook die verhaal gelees. Hy het seker gehoor Daniel gaan na die eiland toe gaan en wil hom nou volg sodat hy die skatte by die eiland kan steel!

Daniel moet ‘n plan maak, want hulle is aan wal. Daniel klim versigtig uit sy skip. Hy sien geen sein van die walvisse nie.

Daarna klim Seerower Mosselbaard skelmpies uit sy skip, tot binne-in sy roeibootjie, maar toe hy uitklim, sien mens walvisse wat sy skip omring. Daniel wonder of dit sy halssnoer is wat hom beskerm?

Daniel se halssnoer begin skyn.

“Wat kan dit beteken,” wonder Daniel.

Mosselbaard begin bekommerd raak.

“K,kan sp,sperm walvisse m,mossels eet?,” fluister Mosselbaard.

Daniel begin blitsvinnig hardloop om by die grot met die skat in uit te kom. Hy kan nie dat Mosselbaard die skat kry nie! Hy voel sy halssnoer bons teen sy bors. Soos wat Daniel nader aan die grot kom, voel hy hoe sy halssnoer warmer word. Hy hoor walvisse roep deur die getuit van sy ore.

Daniel sien die grot en hyg na sy asem. Hy voel hy kan nie meer hardloop

nie. Hy struikel en val op die sand. Die sand slaan hom in die gesig. Hy draai om en sien Seerower Mosselbaard in sy booitjie!

Mosselbaard volg Daniel tot by die grot. Daniel hardloop. Hy stop voor die ingang en maak reg vir ‘n geveg. Mosselbaard is kort daarna by die grot.

Daniel en Mosselbaard haal hulle swaarde uit.

“Ek sien jy het my gevolg, Mosselbaard,” sê Daniel.

Hulle loop stadig in ‘n sirkel.

“Maar, em, hoe het jy geweet?,” vra Mosselbaard verbaas. “Die    reuk van jou stink mossels het dit weggegee.”

Mosselbaard is nou vies.

“Mossels! AANDAG! Wapens op! Voorwaarts mars!,” skree Mosselbaard vir sy mossels.

“Een twee drie vier, een twee drie vier, een twee…” Mosselbaard draai om, maar sien geen reaksie nie.

“MOSSELS! Ek sê AANDAG!” Hy sien steeds geen reaksie nie. Mosselbaard is nou baie bekommerd.

In sy bekommernis, dryf Daniel hom agteruit met sy swaard, tot op die hoogste afgrond se rand. Toe Mosselbaard besef waar hy is, begin hy met ’n swaardgeveg:

“Klienk , klank, klieng-klieng,” maak die swaarde.

Seerower Mosselbaard stoot vir Daniel agteroor met sy swaard.

Daniel het sy arm seer gemaak! Hy probeer opkom maar hy struikel weer. Hierdie keer val sy halssnoer in die see! Daniel begin die angs voel wat deur hom spoel. Hy is te bang om ‘n woord te sê.

“Ha ha! Ek kort in elkgeval nie my mossels om jou te oorwin nie,” lag Seerower Mosselbaard.

Skielik sien hulle iets in die lug opspuit. Daniel se halsnoer! Daniel vang die halnoer en sit dit dadelik om sy nek. Hy kry weer nuwe krag. Dis die walvisse wat dit vir hom opgespuit het!

Daniel staan op en skree:

”Ek is nog nie klaar met jou nie!”

Hy hardloop volspoed in Mosselbaard vas en stoot hom agteroor, sodat hy in die see val.

Mosselbaard snak na asem.

Toe sy kop bo die water uitsteek, gewaar hy die spermwalvisse! Mosselbaard spartel, hy skop hom uit sy stewels uit soos hy probeer om by die strand uit te kom, maar hy is te stadig. Hy sien groot walvisse al hoe vinniger en vinniger op hom afkom.

Daar daal ‘n stilte oor die water.

Mosselbaard dink hulle het hom uitgelos.

Toe nie! Toe hy ondertoe kyk is hulle reeds onder hom. Hy voel hoe hy aan sy hemp deur die water gesleep word. Hy voel hoe die water kouer word.

Mosselbaard wil nie meer kyk nie, hy knyp sy oë toe… en toe toe hy sy oë weer oopmaak, is hy in Antartika!

Daniel het Mosselbaard oorwin!

En toe begin die walvisse “praat” met Daniel. Hy kan dit nie glo nie, want hy verstaan hulle!

Hulle sê:

”Daniel, jy is gekies om saam met ons die eiland te bewaar. Ons het saam besluit jy kan ons naam kry: Walvis Seerower.”

Daniel kan dit nie glo nie.

Van nou af is sy naam die Walvis Seerower.

Klik hier vir die prentjie wat die storie geïspireer het, asook Nikah se karakter-sketse. Kry jou kaartjie om die toneelstuk, Kom ons vertel jou ń storie…of twee! te kyk by die Kalfiefees hier.